Bksa Stellenbosch 50ste Bestaansvieringe Mini-kamp


20 – 28 September 2003
Elsje Scheffler
Om die 50ste bestaansjaar van die Stellenbosch Afdeling te vier, is ’n weeklange mini-kamp in Jonkershoek en omgewing georganiseer. Met ingehoue asems het die bestuur van die Afdeling die weer met die aanvang van die kamp dopgehou. Die reën het gedreig om die mini-kamp in ’n nat onplesierige ondervinding te omskep. Maar ten spyte van die dreigende onweerswolke het drie verskillende groepe Sondag die triestige toestande aangedurf en in drie verskillende rigtings in Jonkershoek in gevaar. Almal het natuurlik ’n tipiese Jonkershoek-dag beleef – al vier seisoene in een dag!
Na die nat begin kon dinge net beter raak en is daar die res van die week omtrent gestap en geklim en geklouter. Jonkershoek en omgewing het uitbundig saam feesgevier! Die berge was vol bruisende watervalle en haastige waterstrome waar lang dorse geles is. Die plate en plate veldblomme het die aandag van die steil hange en moeë bene afgelei en jy kon jouself verloor in die detail van die blommeprag. Wanneer die hellings wel te steil geword het was daar vele luilekker poele waarin jy jouself weer kon verfris en waarlangs jy kon kuier.
Saans het ons tot laat om knetterende kampvure in die basiskamp gekuier. Daar is tot laataand oor die dag se wonders en avonture gesels totdat moeë voete en lywe ons tevrede na ons slaapsakke gedryf het.
Teen Vrydagmiddag het die naderende koue front die berge met ’n wolkekroon begin versier en het dit die einde van die kamp aangekondig. Daar is vir oulaas nog rondom die kampvuur gekuier voordat Saterdagoggend se reëns almal haastig-haastig laat oppak het.
Een van die hoogtepunte van die kamp was die gedenk-hemde wat deur Capestorm vir die geleentheid gemaak is. Die laatslapers was behoorlik groen van jaloesie oor die hemde toe die ander breë-bors daarmee spog op elke uitstappie.
Twintig persone het vir die eerste helfte van die kamp ingeskryf, terwyl daar 26 deelnemers vir die tweede deel was. Deelnemers was van Oos-Kaap (4), Vrystaat (2), Magaliesberg (2), Amajuba (1), Kaapstad (2), KwaZulu-Natal (1) en natuurlik Stellenbosch (16) self. Daar was vier besoekers.