Ernst Lotz
In September 2003 het die Afdeling Stellenbosch sy vyftigste bestaansjaar saam met lede van ander Afdelings met ’n week-lange klimfees in die Jonkershoek- en omliggende berge gevier. Die geboorte en jeugjare van die Afdeling is in die 1983 Joernaal beskryf. Sedert daardie jaar het die jongman van krag tot krag gegaan.
So is die eerste buitelandse klimtoer in 1985 na die Mulanje-berge in Malawi onderneem, waartydens Namasili, Chambe en Sapitwa geklim is. Vier jaar later word die Afdeling die trotse mede-eienaars van 654 ha prima berggrond, toe dit een agste onverdeelde aandeel in die plaas Zebas Bosch in die Hexrivierberge aankoop. Die eiendom sluit in Toorkloof, Boesmansberg en Zebasberg (1900m), en grens aan die Afdeling Kaapstad se Waaihoeksberg-eiendom.
Einde Maart 1999 ly die Afdeling ’n gevoelige verlies toe die Banhoekhut in ’n bergbrand in puin gelê is. Die hut was gelukkig ten volle verseker. Watter plesier was dit nie om die hut te bou en te gebruik nie, maar dit het een groot fout gehad – dit was van ver af sigbaar, en daarby maklik bereikbaar. Dit het gevolglik ongewensde besoekers soos ’n magneet aangetrek, met voorsienbare gevolge. Laat dit ’n les wees vir ander wat miskien beplan om ’n berghut te bou!
Paasnaweek 2002 speel die Afdeling gasheer op ’n baie geslaagde mini-kamp in die Hexrivierberge, en kon bergklimmers van oor die hele land weereens die grootsheid en sjarme van daardie berge geniet.
Dan was daar die naamgeëry. Soos op een van die Afdeling se periodieke besoeke aan die Suidelike Cederberge, toe ons eendag Apollo Suidpiek klim. Bo aangekom tref dit ons dat die kruin van die berg baie soos die oppervlakte van die maan lyk, kompleet met koeëlronde kratertjies in die klipbanke. Ons doop toe die berg Luna, want, het ons gereken, om darem net ’n aanhangsel van Apollo te wees, was darem nie die berg waardig nie! Nou het die berg twee name, en is dit in goeie geselskap. Dink maar aan Katedraal/Second Ridge Peak in Jonkershoek, Rockeries Tower/Mponjwane in die Drakensberge, Mount McKinley/Denali in Alaska, en vele ander.
Daardie nag slaap die geselskap onder ’n oorhang halfpad tussen Apollo en Murraysberg. Laatnag val die fluweelsagte lig van die volmaan op die kranse van ’n hoë kop oorkant die oorhang, en skep ’n betowerende atmosfeer. Almal helder wakker en in vervoering! Die volgende oggend klim ons die kop langs ’n interessante roete, en vind tot ons verbasing geen teken van vorige besoekers nie. Ons kon toe die berg ’n naam gee, en spontaan word op Maanskynkop besluit. Maanskynkop is sowat ’n kilometer wes-suidwes van Murraysberg, en is enige tyd die moeite werd om te klim. Die oorhang was van toe af vir ons die Maanskyngrot.
Paasnaweek 1975 klim die Afdeling Deceptionpiek langs ’n nuwe roete, ’n beskrywing waarvan in die Joernaal van daardie jaar gevind sal word. Om weer by ons voertuie uit te kom stap ons in Stettynskloof af, en om die ruigtes langs die rivier te vermy hou ons hoog teen die hellings van ’n naamlose berg, ’n kilometer suidoos van Deceptionpiek. (Op sommige kaarte word hierdie berg as Deceptionpiek aangedui, maar dit is ’n fout – kyk die 1972 Joernaal, bl. 66.) Daar kom ons toe af op die wrakstukke van die Shackleton-vliegtuig van die Lugmag wat in Augustus 1963 met ’n bemanning van 13 daar neergestort het. Diep onder die indruk van die tragedie wat hom daardie stormagtige nag daar afgespeel het word die berg vir ons Ongeluksberg. Sou hierdie afgeleë berg ooit geklim word, wonder mens.
Met die besef dat bergklimmers die verantwoordelikheid vir die onderhoud van klimroetes moet aanvaar, het die Afdeling onlangs die hand diep in die sak gesteek om ’n erg-verspoelde gedeelte van die Nerinakloof roete op die Jonkershoek Tweelingpieke professioneel te laat herstel. Dit het as aansporing vir die Wes-Kaapse Natuurbewaringsraad gedien om die ewe erg-verspoelde Kurktrekker voetpad in Jonkershoek deur dieselfde voetpadbouer te laat herstel. Nou kan mens weer lekker stap en klim in ons tuisberge!
Die laaste klompie jare het lede van die Afdeling hul vlerke begin uitsprei en die ysreuse van die Pamirs, Karakoram en Chola Shan begin aandurf. Pieke geklim sluit in Pashosi (5500m), Gondokoro (5750m), en Hanispur (5900m). Nou wag ons vir die eerste Stellenbosser om Everest aan te durf!
Die Afdeling sien met vertroue uit na die uitdagings en geleenthede van die
volgende 50 jaar!